2015/05/13

Wat Suid-Afrika van Indië kan leer



Ek het die laaste twee dekades heelwat na Indië gereis. Ek geniet my besoeke en ek baie waardering vir die plek gekry, Ek dink voorwaar die Suid-Afrikaanse bevolking kan heelwat by die van Indië leer.

Ek wil sonmmer so met die intrapslag sê dat nou nie ’n plek waar ek sal heengaan om goeie voorbeelde van projekbestuur te sien nie. Ook nie om modelbestuurders op middelvlak in ’n organisasie te vind nie. Dié is nou waarlik yl verspreid daarso. En so verre dit regeringskorrupsie aangaan is hulle op gelyke voet met Suid-Afrika.  As hulle hul korrupsie kon uitskakel, sal Indiê so vinnig vooruitgaan, dat Rusland & China soos derde wêreld lande sal lyk.

Hulle het ook ’n groot inkomste verskil tussen die bo-op die inkomsteleer teenoor hulle wat onder is - baie soortgelyk aan die situasie wat in Suid-Afrika is. Wat wel verskillend is, is hulle benadering daartoe. In SA sien mens baie woede daaroor, geweld en haatspraak, wat veral aangevuur word deur politici vir eie gewin. In Indië blyk daar ’n groter aanvaarding daarvoor te wees. Ek dink dit is gesetel in die filosofiese benadering van dharma, arta, kharma en moksha. Dis terme wat elke Indiër met vertroud is, ongeag van hulle godsdiemstige oortuiging - di sin hulle sosiologiese DNA. Ek kan dit baie rofweg (en feitlik inkorrek) vertaal as etiese & morele standaarde, wetlike en finansiële strukture, toekomende gerigtigheid en bestemde spiritualiteit. Dis asof dit hulle lei om te aanvaar wat hulle omstandighede is, maar terselfdertyd hulle te laat wedywer vir ’n verbetering van hulle eie omstandighede en die van hulle nageslagte. Die kompetisie op universiteite vir die beste in klas en sodoende vir die beter werkgeleenthede is skrikwekkend. Hulle wag nie vir die regering vir uitgifte nie, hulle is gemotiveerd tot selfverbetering. (Hierdie ding val ’n bietjie plat waneer baie van hulle die status behaal het wat hul soek, maar dit ontneem nie al die wedywering wat hulle ingesit het daar uit te kom nie).

Die groot item wat vir my uitstaan bo alles is verdraagsaamheid. Dis korrek ja, ver-draag-saam-heid. Indië net oor ’n biljoen inwoners met diverse kulture en godsdiens. Hulle het welwiswaar hulle klein groepies religeuse ekstrimiste, maar hulle eintlik so min verhoudingsgewys tot die totale bevolking dat dit in my opinie niksbeduidend is nie. Die kulture mengpot word aanvaar sonder stryd. Die kulture diversiteit word aangemoedig. Daar is geen poging om almal dieselfde te laat wees nie - wel ten minste nie sedert die Britte daar weg is nie. Daar is nie argumente oor wie eerste daar was oor wie land van wie gesteel het nie. Niemand probeer eise instel teen nasate van die Mughals net omdat hulle Indië 500 jaar terug ingeval het nie. Dit word aanvaar as deel van hulle geskiedenis. Finish en klaar.

As jy nou mag dink hulle lyk almal stereotipies Indiër, dink weer. Laat ek jou voorstel aan die Salesiërs van die weskus, die Bhutia en Lepcha van Sikkim en die Siddi van Karnataka en Gujarat. Laat lees maar gerus oor hierdie groepe om jou eie horisonne te verbreed. Die kernpunt, egter bly dit van verdraagsaamheid. Hier is nie diskriminasie op ras gebaseer nie. (Daar mag wel nog klassediskriminasie (caste system) in sekere areas wees, maar dit verminder oor die jare). Mense aanvaar mekaar. Deesdae is skole verplig om Engels en Hindi aan almal te leer en dan ook ten minste een plaaslike taal. Dit help met kommunikasie, maar behou ook kultuur.

Daar is ’n groot verskeidenheid godsdienstige en kulture vakansiedae. Mense kies die wat hulle wil bywoon na gelang van hulle kultuur en almal is gaaf daarmee. Besighede aanvaar dit sonder probleem. Daar is ook ’n paar standaard vakansiedae wat almal vat soos Republiekdag, maar hierdie buigbaarheid beteken dat daar min dae is wat daar niemand op kantoor is nie.

'n Gebuertenis wat my bybly is gasvryheid. Eendag op Bhubaneswar is heelwat vlugte, insluitend ons s’n, vertraag met ’n paar uur. Die klein lughawetjie was oorvol. Een paar ou mense wat geen Engels kan praat nie bied ons hulle sitplekke op die lughawe aan. Hierdie is bejaardes waarvoor ek eintlik my sitplek moet opoffer, maar nee dis omgekeerd. Hoe dan so? Die rede is omdat ons vreemdelinge is en derhalwe gaste in hulle land. Geen xenofobie nie, net gasvryheid en die behandelinge bvan vreemdes met respek.

Uit krieket leer ek toe ook een ding - passie sonder verdeeldheid. Wanneer Indië krieket speel dan word word hulle heelhartig ondersteun. Daar is nie afvalliges wat Pakistan ondersteun nie. Dis Indië of niks, nie soos sekere groepering Saffas wat dink dis cool om eerder die All Blacks te ondersteun nie.

Hierdie is nie dinge wat deur wetgewing vasgemaak kan word nie - dit kom uit die hart uit, uit ’n meestal evolusionêre sosiale struktuur. Dit kom ook uit die persoonlik besluit om goed te doen. Kharma en moksha is die dryfveer. Die kharma van die gemeenskap is verbind aan die kharma van die individu. Stel jou voor as Saffas hierdie begin doen, hoeveel beter dit sal wees.

Middagslenter



Middagslenter

Loop oor die dorpsplein
Hierdie middag met sonskyn
Die windjie byt eina
Somer is hier, byna

Voel lus vir ’n plaaslike bier
Maar die hops en gis sal net die maag ontsier
Hier in ’n eeu-oue klipsteen boulevard
Laat maar die idee vaar

Straattroebadoer sing sy hart uit
Onder die kloktoring se tuit
Tussen vlooimarktentdakke
En haweloses se brakke

Loop in by die koffiewinkel
Waar die barista reeds die bestellling bekinkel
Daarmee saam 'n sny rooifluweelkoek
Vir die laaste hoofstukke van die boek

Dis middag, dis sonskyn
Wanneer bates van dubbel-D’s verskyn
Word daar gedink aan jou, jou en jou
In die land van hemelblou

Hier loop alleen en kyk
Hier is die siel ryk
Gevul met geseënde herinnering,
Ervaringe wat geld nie kan bring

2015/05/10

Karweier van Hoop

Karweier van hoop


Webblaaier sosiale media ritueel
Rol op, rol af
Van oortjie na oortjie
Vingers en oë spring in my kennisaandeel

Ek lees van ’n land verdeeld
Gekloof asof met NP van Wyk Louw se beitel
Ek lees opinies, emosies van
Hulle wat kla, hulle wat haat
'n Vuur van tweespalt wat aanwaai
Politici wat lieg, bedrieg, sonder verlies

Ek sien die woede wat mense sonder uitweg
Uitverkoop aan die revolusie se leuens
Ek lees die uitlatings wat die kleurlyn blameer
Wanneer is die joernalis se waarheid nog reg?
En wanneer hulle na burgeroorlog hunker
Is my hart so soekend na hoop

Ek nou lees ek wat jy skrywe
Ek sien jou fotoplasings
Jy uit verlange se dae
Jy, blonde meisie van Sea View
Jy, jou pa se kombi
En ons wat Sondae saam kerk toe ry

Ek lees wat jy plaas en skrywe
Ek lees wat jy doen
Ek sien geen donker
Ek sien nóg nag nóg doodsduiwe
Net die hoop en pilare
Van gesonde gemeenskapsgroei

Juffrou, Juffrou
Jy wat die gees kan maak en breek
Jy is die een wat die lig op die pad bring
Jy is die een wat die duisternis verlig
Vir die volgende generasie

Stef Bos se woorde draai deur my
Jy kan ’n fok voel vir hierdie land
Of jy kan ’n brug bou na die ander kant

En ek dink weer aan jou in jou eie vlei
Waar jy gemeenskapsbrûe bou
En jongelinge inspireer

Juffrou, Juffrou,
Jy weet dat ’n gesonde land begin
By ’n gesonde gesin
Jy het jou voorbeeld gehad
En nou leef jy dit ook na.
Sal jy die jongelinge ook so inspireer?

Wanneer ek my rekenaar sluit
En oor groen velde wandel
Tienduisend myle weg
Het ek weer hoop,
Sê ek saggies dankie, want jy,
Jy is ’n karweier van hoop.

2015/05/04

Die Koffiewinkel

Die Koffiewinkel


Klink klaar koffie kleur
Spiraal op cappuccino skuim
Klein tafeltjie waar lenteson
Skadus van die dorpsplein opruim

Bokmelkkaas, karamelui geroosterte
broodjie wat die room kamoefleer
Op daardie sojamelk-antocinno van die
Vrou wat beweer dat sy gesondheid bestudeer.
   Die koffiewinkel het kaffeïenvry
   Die koffiewinkel het almandelmelk
   Die koffiewinkel is Fair Trade meneer
   Kom jy weer 'n volgende keer?

Barista brou met bruin bone
Donker espresso, donkerswart
Kenya, Columbië of Peru bedeëlt
Kaffeïen klop klop jou hart.

Sshhh sshhh ssshhh sjoee sssss
Dis warm, dis stoom, dis aan'd borrel
Die melk vir die mokka
Vir die man met die das om sy gorrel
  
   Die koffiewinkel het koek
   Die koffiewinkel het ontbyt
   Die koffiewinkel speel jazz meneer
   Kom jy weer 'n volgende keer?

Costa, Caribou, Starbucks, Segafredo
Mug and Bean,  Ritazza,  Lavaza,
Vida e Caffé, el camino al café
Regmakers te koop op stasie en plaza 
Hier kan ons kuier
Hier kan ons werk
Hier kan ons onttrek
Wanneer die wêreld ons senu's werk

   Die koffiewinkel het frappé
   Die koffiewinkel het internet 
   Die koffiewinkellojaliteitsprogram meneer
   Kom jy weer 'n volgende keer?

Bulgaarse espresso Borovets
Koffie Verkeerd Amstelveen
Rooi cappucino Kaapstad
Drink'it warm onderdak uit'ie reën



Koffiekroeg, koffiekiosk, koffiewinkel
Oggendregskop, middagkuier, aandslenter
Stadsmens van die een na die ander, getrou
Die sosiale bindlint gevind in die koffieventer.

   Die koffiewinkel is hier
   Die koffiewinkel bedien my plesier
   Die koffiewinkel se apparaat reeds gepoets en poleer
   Want more kom hierdie stadsmeneer weer.