2015/05/04

Die Koffiewinkel

Die Koffiewinkel


Klink klaar koffie kleur
Spiraal op cappuccino skuim
Klein tafeltjie waar lenteson
Skadus van die dorpsplein opruim

Bokmelkkaas, karamelui geroosterte
broodjie wat die room kamoefleer
Op daardie sojamelk-antocinno van die
Vrou wat beweer dat sy gesondheid bestudeer.
   Die koffiewinkel het kaffeïenvry
   Die koffiewinkel het almandelmelk
   Die koffiewinkel is Fair Trade meneer
   Kom jy weer 'n volgende keer?

Barista brou met bruin bone
Donker espresso, donkerswart
Kenya, Columbië of Peru bedeëlt
Kaffeïen klop klop jou hart.

Sshhh sshhh ssshhh sjoee sssss
Dis warm, dis stoom, dis aan'd borrel
Die melk vir die mokka
Vir die man met die das om sy gorrel
  
   Die koffiewinkel het koek
   Die koffiewinkel het ontbyt
   Die koffiewinkel speel jazz meneer
   Kom jy weer 'n volgende keer?

Costa, Caribou, Starbucks, Segafredo
Mug and Bean,  Ritazza,  Lavaza,
Vida e Caffé, el camino al café
Regmakers te koop op stasie en plaza 
Hier kan ons kuier
Hier kan ons werk
Hier kan ons onttrek
Wanneer die wêreld ons senu's werk

   Die koffiewinkel het frappé
   Die koffiewinkel het internet 
   Die koffiewinkellojaliteitsprogram meneer
   Kom jy weer 'n volgende keer?

Bulgaarse espresso Borovets
Koffie Verkeerd Amstelveen
Rooi cappucino Kaapstad
Drink'it warm onderdak uit'ie reën



Koffiekroeg, koffiekiosk, koffiewinkel
Oggendregskop, middagkuier, aandslenter
Stadsmens van die een na die ander, getrou
Die sosiale bindlint gevind in die koffieventer.

   Die koffiewinkel is hier
   Die koffiewinkel bedien my plesier
   Die koffiewinkel se apparaat reeds gepoets en poleer
   Want more kom hierdie stadsmeneer weer.


No comments: