2015/06/06

Ysklim in die Drakensberg

Die Suid-Afrikaanse winter is alweer oppad. In die noordelike halfrond probeer dit somer wees.  Ysklim is derhalwe 'n jaarlikse aktiwiteit van heelwat bergklublede. Wanneer die wintermaande op Suid-Afrika toeslaan word daar na afgeleë gedeeltes van die Drakensberg getrek op soek na geyste watervalle. Dis 'n goeie tyd om nostalgies te raak oor die buitelewe in Suid-Afrika deur 'n ou artikel deur Die uwe Ysbeer oor juis so ysklimtoggie.

Ysklim: Julie '97

Die goeie reën van die afgelope jaar het net goed voorspel vir ystoestande in die 'Berg. Nie net was die ys en sneeu in uitstekende toestand nie, dit was ook die meeste Bergklub lede (en nie-lede) wat Ysbeer nog ooit saam op die 'Berg in winter gesien het.

Vir die meeste van ons mere mortals is Giant's in 'n dag redelik harde werk. Voeg daarby 'n week se kosvooraaad, winteruitrusting, yspikke, krampons en sekere nuwelinge wat nog nooit 'n Drakensbergpas gedoen het nie - 'n goeie resep vir pret. Óf dit die bangpraat was, óf die Romeinse mars van Chris, almal maak dit toe in een dag. Almal, behalwe een nie-lid, wat besluit het om maar eerder in die pas te oornag. Ysbeer het nog sy bedenkinge oor waar die oorsaak lê - fiksheid of whisky!

Die sneeu was diep, volop en vol pret. Vra maar vir Rob oor sy Toboggan Run - 150m se (amper) reguit sneeulaan. Afgerond met 'n draai daar ver onder. Dit was glo om te verhoed dat niemand die tentdorp uitwis nie. Nie dat dit eintlik vir Szabolcs gekeer het nie - dié kop eerste oor die ramp aksie het Ysbeer laat wonder of daar dalk sulke skole in Roemenië is.

Die goeie sneeukondisies was uitstekend vir die oefen van sneeuankers en Self-arrest. Natuurlik het dit 'n paar gate in die nuwelinge se waterdigte klere veroorsaak tot groot vermaak van ander. Nie dat die (klein bietjie) ervares nie deurgeloop het. Ysbeer onthou die toerleier se verleentheid van 'n vooroorrol wat kop en skouers in die sneeu en voete in die lug gestop het.

Die ys by Makaza was hierdie jaar werklik in 'n goeie toestand - vir die eerste keer in baie jare was daar lyne van blou ys. Die nuwelinge het ook vinnig aangepas by die nuwe tegnieke. Na aan die einde van die week het Chris sy eerste waterval op Makaza gelei. Hy vertel met groot genot van die paar benoude oomblikke naby bo toe hy besluit het om op 'n vrot stuk ys te topout.

Schalk & Szabolcs het Eastern Gully as 'n winterroete gaan doen. Tegnies was dit nie moeilik nie, net lank en uitputtend. Die crux was 'n sneeubrug wat oor 'n waterval gevorm het. Ysbeer verstaan nog nie waarom Szabolcs besluit het om, om te val juis toe Schalk net mooi op die moeilikste plek was.

Intussen terug by basiskamp kry Barend 'n nuwe bynaam - Sick Boy. Blykbaar iets te doen met die toestand van sy kookpot - Ysbeer sal hom maar liewer nie hieroor uitlaat nie. Dalk kan hy die wind blameer, want dié het die Transvaalseksie lede al die Maandag verjaag. Ysbeer reken die feit dat drie Isotec's deur nagtelike windstorms bly staan het, 'n goeie advertensie vir Sunseeker is. Dalk moet tentvervaardigers die Bergklub elke winter met 'n paar tente borg om te toets?

Teen Vrydag het die weer 'n draai na nog sneeu begin wys en dis eenparig besluit om uit te stap. Dit was 'n goeie tyd om te klim. Of die goeie toestande weer volgende jaar daar sal wees, is te betwyfel. Daar is tans sprake dat die El Nino weer oor die Stille Oseaan sy verskyning maak. Ons sal moet wag en kyk. Daar sal wel weer volgende jaar geklim word.

Aangesien tradisie 'n ding is wat in ere gehou moet word, was die toer sonder enige teenstemme afgesluit met 'n goeie pig-out by Halfway Restaurant.
-- Ysbeer

Oorspronklike artikel was in die 1997 uitgawe van Peglarae, die nuusbrief van die Magaliesbergafdeling van die Bergklub, gepubliseer.