2015/01/28

Waarheen mens


    Waarheen mens

  Twaalf
  Was dit dalk die uur?
  Die punt van opgegee
  Was daar nooit 'n vetgemaakte kalf
  Net soeke vir die positiewe oomblik 
  Tot die volgende oomblik.
  Oomblik. 

  Een
  Die laaste strooi  Breek die kameel
  Wie sal nou hulp verleen?
  Nog net een keer meer
  Hou die woord
  Breek geen belofte

  Twintig
  Jare van pyn
  Geen salf te smeer
  Verlede gewigtig
  Toekoms mistig
  Koeie in slote  
  Alger weer uitgehaal

  Vyftien
  Plus maak veertig en middeljare
  Verwyt is langer
  Is daar nog hoop; miskien.
  Nie soos verwag.
  Waarheen mens?
  
   

2015/01/19

Tsunami



Dink daaraan:

Dis sonskyn op die strand,
'n idilliese dag van 'n vakansie.

Êrens in die wIereld is daar 'n aardbewing, 

dit gaan jou min aan, jy weet niks daarvan

Skielik is daar hierdie moerse branders wat aanrol,
aanrol uit niks
jy veg vir jou lewe
jy word deurmekaar gespoel
jy gryp aan 'n boom, klou vir jou lewe


jy sien jou familie, vriende word weggespoel
jy het twee kinders, maar kan net een vashou,

een moet jy los ...

Dis iets waaraan mens nie wil dink nie. Iets wat jy bid sal jou gespaar bly. Ysbeer se vrou sê sy het jare terug al van sulke dinge gedroom. Groot branders wat uit niks en nêrens kom en mens wegspoel. Maar kyk 'n bietjie hierna - 'n Amateurvideo het hierdie historiese oomblikke in Phuket vasgegryp. Die angs en skok is duidelik te hoor daarop.

Geskryf in 2004 na die Asië Tsunami die wêreld in skok gelaat het

2015/01/12

Die Ysbeer en die Laserskyfpas


Nog 'n ou artikel oor stap in die Drakensberge. Die Icifi- en Icidipasse in die Drakensberg is afgeleë en harde werk. Die sirkelroete om met Ifidi op te gaan en Icidi af te gaan bly nog steeds en my gunsteling roetes ooit.

Icidi: Ysbeer en die Laserskyfpas (10-13 April) 

Die bergklimmer se gebrek aan goeie langtermyngeheue, dié het Ysbeer nou al meer talle gesien, laat hom altyd weer na plekke teruggaan waar ween en gekners van tande voorland is. Soos 'n lid van die laaste Ifidi-Icidi stapgroep tereg opgemerk het, "...en wie nie tanne het nie sal voorsien word...". So om Ysbeer se ego te streel, net om aan homself te bewys dat sy paradigma korrek is, gaan hy toe na die klubaand voor die opkomende Paasnaweek.

Dis toe hier wat hy hoor dat Dries, die geagte toerleier, sê hy beoog om in een dag van die eskarp via Icidipas uit te stap. Dié het nou 'n roering by die skare veroorsaak. Dit het Ysbeer herinner aan sy studentedae toe tydgenoot, Klaas Oogpister, stellings in Die Perdeby gemaak het oor die moontlikheid van 'n toekomstige swart president. Ewenwel het hierdie dramatiese uitlating nie heelparty persone gekeer om hulle name op die lys te sit nie. Groot was Ysbeer se verbasing op Goeie Vrydag om 18 persone te sien kamp net buite die Ifidipoort. Die kamp was verdeel in twee groepe - geheuelose bergklimmers en skape voor die slagpale.

So sou die volgende dag se aktiwiteite kom. Na 'n bosbars, 'n walkruip, 'n aantal 'high steps' en heelwat 'boulder hopping' sou die insieerder zegt "...wie het hierdie toer op die program gesit?". Ysbeer het geglimlag, want vorentoe sou die ware karakter van Ifidipas na vore kom. Drie nat klouterbane het vir die tou gevra, maar teen halfvier was almal bo sonder voorval. 'n Blitsvinnige donderstorm jaag almal die tente in vir 'n aantal minute, maar toe dit verby is word die res van die middag bo op Ntaba Ndyanzana deurgebring.

Die geagte toerleier het toe wel sy planne verander en besluit om die Sondag met Icidipas af te gaan. Ook maar goed, want Ysbeer weet dat Icidi self op 'n goeie dag so maklik is as om Winnie agter tralies te kry.

Intussen het iemand natuurlik weer die ou man wat die Draak oppas omgekrap, want op die moelikste deel gooi hy toe almal nat. Dalk was dit Schalk want hy het 'n skoon hemp aangetrek. En daar moes ons geagte toerleier nou nog net sê "Dit trek oop". Eina! Daar is die ou kêrel eers kwaad en gooi toe sommer almal met haelkorrels ook! Nou ja, sommige mense het verwronge sin vir humor, want deur alles loop iemand en sing "Slip Sliding Away".

Ysbeer het homself wel met iets misreken. 'n Plek soos dié kuur mense van baie kwale, maar dit het wragtig nie een van die gaste van verbale diarree bevry nie. Tog mag dit goed wees om mense soos hierdie in die Magaliesberg Afdeling in te kry: na 'n lang dag se uitstap kan hulle nog hardloop om 'n taxi voor te keer.

Isandlwana drankwinkel het 'n groot toestroming ondervind. Ysbeer kon net glimlag toe hy sien dat sekere elemente van die mensdom nog nie besef het dat drie biere binne 'n halfuur na harde oefening nie goeie maats is nie. Maar in alle geval 'n suksesvolle toer sou Ysbeer reken - Wrobit en al.

Groete uit Harrismith,

Ysbeer probeer nog die laaste van sy pizza klaarmaak...

                                                                                             -- Ysbeer 

Oorspronklike artikel is in 'n 1998 uitgawe van die Peglarae, nuusbrief van die Magaliesbergafdeling van die Bergklub se publiseer.

2015/01/07

'n Donker Pad



    'n Donker Pad

  Vanaand stap ek alleen in die spore van my gedagtes
  'n poespas van realiteit, mites, wense, en verledes.
  ek vind weer die pyn van dood, 'n laaste noodkreet, 

      weerklank van bene wat breek
  ek vind die pyn van wat mag wees, dit wat ek nie weet nie
  ek sien 'n geloof dat daar altyd uitkoms sal wees

  ek sing 'n liedjie vir jou, net soos Jannie
  daar is geen vonkel in my oog
  ek sing 'n liedjie vir jou, net soos JK
  sien jou aan die ander kant
  sal jy vir my wag, vra ek, maar jy antwoord nie

  dis 'n donker pad, wat net ek kan loop
  hier is geen hotelle, geen portiers, 

      geen wit beddens om my op neer te lê nie
  hier is geen plek om te rus
  hier is net ek
  alleen



Oorspronklike skrywe 31 Desember 2004

2015/01/06

Stortvloed


  Stortvloed

  soveel emosie, so min woorde
  soveel te vertel, so min gesê


  die wolk hang oor die berg, reën spat op die ruit

  die kosbaarheid van vriendskap, die prys van behoud


  die pyn van afskeid, die hoop op herontmoeting

  laataand op 'n donkerpad, reën op die kantvenster

     mag ons ou vriende nooit vergeet

     taxi uit heathrow
     dit reën alweer


Oorspronklike skrywe Sep 2004.

Winter in die Noorde


  Die reën is verby,
  Die son is uit
  Stef Bos is op die speler
  Dis nog steeds winter hier

  Donker wolke, bloue lug
  Donker wolke, bloue lug
  Vreemdeling in 'n vreemde land
  Dis nog steeds winter hier

  Oor die see is dit somer
  Die sand is warm
  Die see is leuk 
  Dis nog steeds winter hier

  Die son lê laag
  Verblind my oor die huise se dakke
  Binnekort sal dit donker wees
  Winter.