2015/02/20

Kaapse Droom

Kaapse Droom

Kaap van Storms, Kaap de Goeie Hoop, gee my hoop
Gooi vir my 'n klippie in die see
Wens vir my 'n wens
Dat ons weer kan ontmoet
Op historiese grond wanneer die son skyn
Ek jou kan omhels
En jou oë nog steeds so blou skitter

Kommetjie, Kommegas, wees my gas
Hier in my houthuis
Kom ons eet en gesels oor vergange dae
Waar Lizz Wright se blues ons verlei
Na 'n magiese plek waar ons nog nooit was
Kom ons lag en vergeet van buite
Twee van ons alleen

Hermanus, hemoglobien, haai vriendin
Kom ons sit op die strand en drink
Spookfontein se rooiwyn
Waar walvisse ons siel gewaar aan 'n groter betekenis
Kom ons ry af met die N2 na nêrens
Met die vensters oop en musiek kliphard
En stop by Peregrine om van daardie marmelade te koop

Franschoek, Franse hugenoot, verlos van snood
Vreemdelinge in vreemde land
Met 'n nuwe begin
En 'n onwisbare spoor
Kom ons staan vir 'n oomblik voor die monument
En onthou hulle wat nie meer hier is nie
Soos jy ook nie hier is nie

                             ----

Ek gooi vır jou 'n klippie in die see
Want jy's nie hier nie
Ek wens vir jou 'n  wens
Want ek weet nie waar jy is nie
Ek hoop soos Crocodile Harris dat iemand my nuus sal bring
Maar vir nou reis ek weereens alleen

2015/02/19

Wouter


Wouter

Wouter, Wouter, dae lank geleë
Umbilo Road
Durban se see
Onskuldige kinders en diepe Duitse liriek
Haarinspeksies en ses van die bestes
Die laaste dag van matriek.


Wouter, Wouter, onthou jy nog
Apartheid.
Die regses wou ons moer oor ons liberale tog.
Tuks se groen gras en wiskunde sonder pyn
Dae afgewese van kommer
En die meisies van Asterhof, Jasmyn en Klaradyn.


Wouter, Wouter, dankie my maat

Toe ek gatvol vir omstandighede was
Bring jy balans sonder om verwyt aan te raak
Wanneer ek heimweë na die heimat het, is jy daar
’n Whatsapp ver
Om avontuur, ’n houtvuur en die lewe te verklaar.


Wouter, Wouter, ou vriend.
Mens sien so min, ’n min so emosioneel.
Vrede en seën is jou welverdiend
Tyd wag vir geen een
Ons het lekker gekuier; dis tyd om te groet
Tyd ja, is maar net aan ons geleen.





2015/02/08

Magaliesberg

Magaliesberg

Haal diep asem
Mmmm…
Die reuk van reën in Afrika.


Oggend.

Loop deur die veld.
Mmmm...
Die reuk van kakiebos

Stroompies kabbel na benede
Bring lewe in dorre land
Bring vrede vir die mens.

Middag.

Vind die son jou alleen
Eina…
Brand hy jou dood.

Die kwê van die kwêvoël
Bo die skadu van Akasia
Hy weet jy is daar.

Tjailatyd.

Kranse van sandsteen
Oeroud…
Skitter in die son.

Vind die stofpad
Sê totsiens in jou hart
Tot volgende keer.

2015/02/05

Emosie van 'n Enkeling

Emosie van ’n Enkeling

Een man solo alleen met sy rekenaar
’n Ander persoon verdiep in die tabletvideo
Daar giggel ’n paar reisigers om hul kaas en wyn
In die lounges van die bevoorregtes

Hierdie man is niet deel daarvan
Sy bloeddruk is hoog
Sy vlug gemis
Tydelik gefaal in wat hy beoog
Was koel komkommer
Nou afgepis

Buiten daal die nag neer.
Vliegtuigligte flikker op aanloopbaan.
Trein loop onder die grond, waar die vliegtuig wag
Party is alleen; ander groepe wat saamgaan
Hierdie man is alleen; ander opgewonde -
Wag op avonture wat lê anderkant die  nag.

Vele tale word hier gehoor
Van ooral oor, na oorals heen
Aanboord, langs mekaar.
Vreemdelinge, vriende, ander alleen
Hierdie man is ook daar
Almal gesete al klaar.

Die deure is gesluit,
Die kaptein praat
Dis tyd
Die wiele draai, wees paraat
Die grond verdwyn
Daardie man het aptyt.

Maar ek wag ...
Want soos Stef Bos, het ek ook geleer om alleen te reis.


2015/02/01

Hierdie een is vir my vriende

Hierdie een is vir my regte lewe vriende. (Ja, ja, selfs die Ysbeer ek het ook van hulle).




Luister na die bg. song in die agtergrond terwyl jy verder lees aan die boodskap wat in hierdie lirieke vervang is. Musiek het baie keer 'n beter manier om 'n boodskap oor te dra as ons wat ons net gewoonweg kan skrywe.

Ons het almal mekaar nodig. Die lewe gaan aan en niemand raak jonger nie. Derhalwe weet ons uit ondervinding dat
Sometimes in our lives
We all have pain, we all have sorrows
But, if we are wise
We know that there's always tomorrow.
So ek wil net vir julle sê:
Lean on me, when you're not strong
And I'll be your friend, I'll help you carry on
For it won't be long 'til
I'm gonna need somebody to lean on
You just call on your brother when you need a hand
We all need somebody to lean on
I just might have some problems that you'd understand
We all need somebody to lean on
Party van ons kom al jare saam en op ons ouderdom besef mens die waarde van ware vriendskap teenoor mooiweersvriende. Ek sal graag vir julle ook daar wil wees wanneer dit nodig is. Ons het nie altyd antwoorde nie, maar ons kan ten minste luister.


N.S. Vir enigeen van julle wat in di volledig liriek belangstel, sien dit op Metrolyrics. Daar is nog verdere seëning daarin te vinde.