2015/02/19

Wouter


Wouter

Wouter, Wouter, dae lank geleë
Umbilo Road
Durban se see
Onskuldige kinders en diepe Duitse liriek
Haarinspeksies en ses van die bestes
Die laaste dag van matriek.


Wouter, Wouter, onthou jy nog
Apartheid.
Die regses wou ons moer oor ons liberale tog.
Tuks se groen gras en wiskunde sonder pyn
Dae afgewese van kommer
En die meisies van Asterhof, Jasmyn en Klaradyn.


Wouter, Wouter, dankie my maat

Toe ek gatvol vir omstandighede was
Bring jy balans sonder om verwyt aan te raak
Wanneer ek heimweë na die heimat het, is jy daar
’n Whatsapp ver
Om avontuur, ’n houtvuur en die lewe te verklaar.


Wouter, Wouter, ou vriend.
Mens sien so min, ’n min so emosioneel.
Vrede en seën is jou welverdiend
Tyd wag vir geen een
Ons het lekker gekuier; dis tyd om te groet
Tyd ja, is maar net aan ons geleen.





No comments: