2015/02/20

Kaapse Droom

Kaapse Droom

Kaap van Storms, Kaap de Goeie Hoop, gee my hoop
Gooi vir my 'n klippie in die see
Wens vir my 'n wens
Dat ons weer kan ontmoet
Op historiese grond wanneer die son skyn
Ek jou kan omhels
En jou oë nog steeds so blou skitter

Kommetjie, Kommegas, wees my gas
Hier in my houthuis
Kom ons eet en gesels oor vergange dae
Waar Lizz Wright se blues ons verlei
Na 'n magiese plek waar ons nog nooit was
Kom ons lag en vergeet van buite
Twee van ons alleen

Hermanus, hemoglobien, haai vriendin
Kom ons sit op die strand en drink
Spookfontein se rooiwyn
Waar walvisse ons siel gewaar aan 'n groter betekenis
Kom ons ry af met die N2 na nêrens
Met die vensters oop en musiek kliphard
En stop by Peregrine om van daardie marmelade te koop

Franschoek, Franse hugenoot, verlos van snood
Vreemdelinge in vreemde land
Met 'n nuwe begin
En 'n onwisbare spoor
Kom ons staan vir 'n oomblik voor die monument
En onthou hulle wat nie meer hier is nie
Soos jy ook nie hier is nie

                             ----

Ek gooi vır jou 'n klippie in die see
Want jy's nie hier nie
Ek wens vir jou 'n  wens
Want ek weet nie waar jy is nie
Ek hoop soos Crocodile Harris dat iemand my nuus sal bring
Maar vir nou reis ek weereens alleen

No comments: