2015/03/29

Die Mama van 14de Laan

Die Mama van 14de Laan
By die brug het ek haar eens gewaar
Haar ronderand hoed weer die Afrika oggendson
Hier in my motor is ek lugverkoel
Sy kom nader; haar gesig 'n informasiebron

   Elke dag is ek hier by die rooi lig
   Ek kyk vir motors wat wag
   Ek kyk hoe die motors ry.

   Op aalmoese is ek aangewese
   ’n Vyf rand hier, ’n piesang daar
   My lyf voel oud, lank kan ek nie staan.

   Tog sal ek enige werk doen as ek kan kry.

   Vanaand slaap ek tussen Egoli se beton
   My bed in Jeppe straat
   My huis van karton.

   Ek droom nie van more nie
   Wie weet of ék dit ooit sal sien
   Ek’s die mama van 14de Laan.

   God bless you, meneer.

Haar woorde is dankbaar
Die hoop in haar oë dolleeg
Elke dag verweer haar gebroke selfbeeld
Wie kan haar verwagtiging van more verpleeg?

Vryheid het gekom; leë beloftes is gemaak
Waar het dit haar gelaat?
Geen werk, g'n huis of pensioen
Wat dink sy van my waar ek met haar praat?

Sy staan soos die leed in belediging
Transformasie se vergete vlees
Wanneer my weë dié weg weer mag kruis
Waar sal hierdie mama dan wees?

2015/03/08

8 Maart 2805 - Die Legende van Pitoorhia



Dis 8 Maart 2805, Suidelike Afrika. Oor 'n dorre stuk aarde kom 'n silwer voertuig tot stilstand. Twee reisigers klim uit onder 'n warm son. Die ouer een kyk peinsend na die eindelose niks wat heenstrek en begin dan stadig dié verhaal te vertel

Daar is 'n legende dat hier eens, honderde jare terug, 'n plek was waar die bome elke lente die strate pers betower het. 'n Plek waar die somers warms was, waar donderstorms gereeld alles skoongewas het. Dit was 'n plek van kontras, eens het dit gestaan as 'n simbool van verdrukking, toe as een van hoop.

Maar met tyd het hoogmoed en gierigheid van die stadsvaders die oorhand verkry. Uiteindelik sou hulle die geskiedenis probeer uitwis, name verander om hulle eie onbevoegheid te verbloem. Uit gierigheid sou hulle na hulself omsien, hulle koffers vul, hulle leuens aan die media vertel, terwyl die stad vergaan het. Die plek waar 'almal saam moes wees' word die plek waar 'almal ellendig is'.

Die wat kon het pad gegee na ander dele van die wêreld, maar dit was nie almal beskore nie. Baie sou sterf van hongersnood. Elke boom is uitgehaal vir vuurmaakhout deur die armes. Toe daar geen bome meer was nie het hulle huise afgebreek om vuur te maak. Stelselmatig sou alles verdwyn en die sand alles oorneem.

En soos Atlantis in die see verdwyn het, so het Pitoorhia in die niet verdwyn.

"Wat het van die stadsvaders geword?", vra die jonger een.

"Niemand weet werklik nie", sê die ouer een, "maar die legende vertel dat die uitvoerders van aksynskolleksies, nepotisme en chaos uitgehang is vir die aasvoëls."


Oorspronklike artikel is op 8 Maart 2005 gepubliseer
maar sal by baie nog steeds deiselfde aanklank vind.