Dis 8 Maart 2805, Suidelike Afrika. Oor 'n dorre stuk aarde kom 'n silwer voertuig tot stilstand. Twee reisigers klim uit onder 'n warm son. Die ouer een kyk peinsend na die eindelose niks wat heenstrek en begin dan stadig dié verhaal te vertel
Daar is 'n legende dat hier eens, honderde jare terug, 'n plek was waar die bome elke lente die strate pers betower het. 'n Plek waar die somers warms was, waar donderstorms gereeld alles skoongewas het. Dit was 'n plek van kontras, eens het dit gestaan as 'n simbool van verdrukking, toe as een van hoop.
Maar met tyd het hoogmoed en gierigheid van die stadsvaders die oorhand verkry. Uiteindelik sou hulle die geskiedenis probeer uitwis, name verander om hulle eie onbevoegheid te verbloem. Uit gierigheid sou hulle na hulself omsien, hulle koffers vul, hulle leuens aan die media vertel, terwyl die stad vergaan het. Die plek waar 'almal saam moes wees' word die plek waar 'almal ellendig is'.
Die wat kon het pad gegee na ander dele van die wêreld, maar dit was nie almal beskore nie. Baie sou sterf van hongersnood. Elke boom is uitgehaal vir vuurmaakhout deur die armes. Toe daar geen bome meer was nie het hulle huise afgebreek om vuur te maak. Stelselmatig sou alles verdwyn en die sand alles oorneem.
En soos Atlantis in die see verdwyn het, so het Pitoorhia in die niet verdwyn.
"Wat het van die stadsvaders geword?", vra die jonger een.
"Niemand weet werklik nie", sê die ouer een, "maar die legende vertel dat die uitvoerders van aksynskolleksies, nepotisme en chaos uitgehang is vir die aasvoëls."
Oorspronklike artikel is op 8 Maart 2005 gepubliseer,
maar sal by baie nog steeds deiselfde aanklank vind.
No comments:
Post a Comment