2016/05/04

Porseleinruiter

Porseleinruiter

Want die son het geskyn
Maar die reën  het geval
Op rooi grond gedans soos kinders op karnaval
Tot waar akasia die horison belyn.

Onder die kliphuis se grasdak
Vertel Led Zeppelin
Van trappe die hemel in
En gooi skadu’s op die hart se afdak,

Want die donker het verby gesuiker
Die laaste lig ingesluk,
En tyd verongeluk
Hierby die Bavariese porseleinruiter.

Hier, net hier is nou
Hier waar ek weet ek verlang na jou.