2015/05/10

Karweier van Hoop

Karweier van hoop


Webblaaier sosiale media ritueel
Rol op, rol af
Van oortjie na oortjie
Vingers en oë spring in my kennisaandeel

Ek lees van ’n land verdeeld
Gekloof asof met NP van Wyk Louw se beitel
Ek lees opinies, emosies van
Hulle wat kla, hulle wat haat
'n Vuur van tweespalt wat aanwaai
Politici wat lieg, bedrieg, sonder verlies

Ek sien die woede wat mense sonder uitweg
Uitverkoop aan die revolusie se leuens
Ek lees die uitlatings wat die kleurlyn blameer
Wanneer is die joernalis se waarheid nog reg?
En wanneer hulle na burgeroorlog hunker
Is my hart so soekend na hoop

Ek nou lees ek wat jy skrywe
Ek sien jou fotoplasings
Jy uit verlange se dae
Jy, blonde meisie van Sea View
Jy, jou pa se kombi
En ons wat Sondae saam kerk toe ry

Ek lees wat jy plaas en skrywe
Ek lees wat jy doen
Ek sien geen donker
Ek sien nóg nag nóg doodsduiwe
Net die hoop en pilare
Van gesonde gemeenskapsgroei

Juffrou, Juffrou
Jy wat die gees kan maak en breek
Jy is die een wat die lig op die pad bring
Jy is die een wat die duisternis verlig
Vir die volgende generasie

Stef Bos se woorde draai deur my
Jy kan ’n fok voel vir hierdie land
Of jy kan ’n brug bou na die ander kant

En ek dink weer aan jou in jou eie vlei
Waar jy gemeenskapsbrûe bou
En jongelinge inspireer

Juffrou, Juffrou,
Jy weet dat ’n gesonde land begin
By ’n gesonde gesin
Jy het jou voorbeeld gehad
En nou leef jy dit ook na.
Sal jy die jongelinge ook so inspireer?

Wanneer ek my rekenaar sluit
En oor groen velde wandel
Tienduisend myle weg
Het ek weer hoop,
Sê ek saggies dankie, want jy,
Jy is ’n karweier van hoop.

No comments: