2015/12/03

As die Perdeblom Verwelk

Die klap van die reën op die ruit
Waar vermeng met die trein se fluit,
Die ou staanhorlosie in die voorkamer
Die uur klokslag uithamer

Ingekruip is jy, in my hartkas
Jou eie poshok, met notas
Gebêre tot eendag se weersien
Laataandkuier in Koster, of ontbyt in Zlín

Dis toe die lewe hierdie Dinsdag kom staan
En oppie hartsnare ’n C-mineur-sewe slaan
Die akkoord vaspen, middelslag en somber.
Die maag laat saamtrek in kommer

Die boodskap was daar, grou en goor
Ons het jou amper verloor
En voor ek kon verstaan
Was my hart ys en tyd het stil gestaan

Die kil besef het met weerklank geslaan
Ek’s nie reg om jou te laat gaan
    te laat gaan
       te laat gaan

Want ingekruip is jy, in my hartkas
Jou poshok; met meer die notas
Ons herontmoeting so skaars
  so skaars
    so skaars

En nou druppel die reën haar trane
Teen die ruit in waternat bane
Vervuld in metafisiese empatie

Ag, mens

Wanneer die geel van die perdeblom verwelk
en haar silwer haardos in die wind verwaai
Wanneer gemoed in die najaar draai
Die boer die laaste vrugte maai

Kyk dan in die hemel na die windswael
Wat verhuis sonder kwaal
Van hier tot ver oor die ewenaar
Jou gedagtes na my dra op die wind se snaar

Ag, jy

Nostalgie het geen kuur
En kom daardie laaste tydglas uur
Waar ons sal beide moet reis in eie tyd,
Alleen van hier na daar

Mag ons net hoop dat in die poshok
Het die laaste brief tussen ons ook ontdok.

2015/08/05

Slotsom

Slotsom

Kom die dag, kom die uur
Kom die laaste maal
Die end van lewensduur
Daardie reis van hier na daar
Maak dié laaste taak vir my klaar

Lê my vleeslike stof neer daar
Waar die son oor Ifidi,
Die Mnweni-oggend in die vuurkleur baar
Die finaliteit met gras, grond
En uKahlamba se basalt af te rond

Wanneer die mis rotsteater omvou
Die winterwind verwoed waai
Die klein waterval verys wit en grou
En lammergeierskadu die rotsspiese bedek
Gevind my siel sy tydelike rusplek

En sou die Groot Meester
My gees nog laat dwaal,
Laat dit dan wees ter
Ontwrigting van die boosdoener;
'n Beskerming vir die bergklimmer


2015/06/06

Ysklim in die Drakensberg

Die Suid-Afrikaanse winter is alweer oppad. In die noordelike halfrond probeer dit somer wees.  Ysklim is derhalwe 'n jaarlikse aktiwiteit van heelwat bergklublede. Wanneer die wintermaande op Suid-Afrika toeslaan word daar na afgeleë gedeeltes van die Drakensberg getrek op soek na geyste watervalle. Dis 'n goeie tyd om nostalgies te raak oor die buitelewe in Suid-Afrika deur 'n ou artikel deur Die uwe Ysbeer oor juis so ysklimtoggie.

Ysklim: Julie '97

Die goeie reën van die afgelope jaar het net goed voorspel vir ystoestande in die 'Berg. Nie net was die ys en sneeu in uitstekende toestand nie, dit was ook die meeste Bergklub lede (en nie-lede) wat Ysbeer nog ooit saam op die 'Berg in winter gesien het.

Vir die meeste van ons mere mortals is Giant's in 'n dag redelik harde werk. Voeg daarby 'n week se kosvooraaad, winteruitrusting, yspikke, krampons en sekere nuwelinge wat nog nooit 'n Drakensbergpas gedoen het nie - 'n goeie resep vir pret. Óf dit die bangpraat was, óf die Romeinse mars van Chris, almal maak dit toe in een dag. Almal, behalwe een nie-lid, wat besluit het om maar eerder in die pas te oornag. Ysbeer het nog sy bedenkinge oor waar die oorsaak lê - fiksheid of whisky!

Die sneeu was diep, volop en vol pret. Vra maar vir Rob oor sy Toboggan Run - 150m se (amper) reguit sneeulaan. Afgerond met 'n draai daar ver onder. Dit was glo om te verhoed dat niemand die tentdorp uitwis nie. Nie dat dit eintlik vir Szabolcs gekeer het nie - dié kop eerste oor die ramp aksie het Ysbeer laat wonder of daar dalk sulke skole in Roemenië is.

Die goeie sneeukondisies was uitstekend vir die oefen van sneeuankers en Self-arrest. Natuurlik het dit 'n paar gate in die nuwelinge se waterdigte klere veroorsaak tot groot vermaak van ander. Nie dat die (klein bietjie) ervares nie deurgeloop het. Ysbeer onthou die toerleier se verleentheid van 'n vooroorrol wat kop en skouers in die sneeu en voete in die lug gestop het.

Die ys by Makaza was hierdie jaar werklik in 'n goeie toestand - vir die eerste keer in baie jare was daar lyne van blou ys. Die nuwelinge het ook vinnig aangepas by die nuwe tegnieke. Na aan die einde van die week het Chris sy eerste waterval op Makaza gelei. Hy vertel met groot genot van die paar benoude oomblikke naby bo toe hy besluit het om op 'n vrot stuk ys te topout.

Schalk & Szabolcs het Eastern Gully as 'n winterroete gaan doen. Tegnies was dit nie moeilik nie, net lank en uitputtend. Die crux was 'n sneeubrug wat oor 'n waterval gevorm het. Ysbeer verstaan nog nie waarom Szabolcs besluit het om, om te val juis toe Schalk net mooi op die moeilikste plek was.

Intussen terug by basiskamp kry Barend 'n nuwe bynaam - Sick Boy. Blykbaar iets te doen met die toestand van sy kookpot - Ysbeer sal hom maar liewer nie hieroor uitlaat nie. Dalk kan hy die wind blameer, want dié het die Transvaalseksie lede al die Maandag verjaag. Ysbeer reken die feit dat drie Isotec's deur nagtelike windstorms bly staan het, 'n goeie advertensie vir Sunseeker is. Dalk moet tentvervaardigers die Bergklub elke winter met 'n paar tente borg om te toets?

Teen Vrydag het die weer 'n draai na nog sneeu begin wys en dis eenparig besluit om uit te stap. Dit was 'n goeie tyd om te klim. Of die goeie toestande weer volgende jaar daar sal wees, is te betwyfel. Daar is tans sprake dat die El Nino weer oor die Stille Oseaan sy verskyning maak. Ons sal moet wag en kyk. Daar sal wel weer volgende jaar geklim word.

Aangesien tradisie 'n ding is wat in ere gehou moet word, was die toer sonder enige teenstemme afgesluit met 'n goeie pig-out by Halfway Restaurant.
-- Ysbeer

Oorspronklike artikel was in die 1997 uitgawe van Peglarae, die nuusbrief van die Magaliesbergafdeling van die Bergklub, gepubliseer.