Die klap van die reën op die ruit
Waar vermeng met die trein se fluit,
Die ou staanhorlosie in die voorkamer
Die uur klokslag uithamer
Ingekruip is jy, in my hartkas
Jou eie poshok, met notas
Gebêre tot eendag se weersien
Laataandkuier in Koster, of ontbyt in Zlín
Dis toe die lewe hierdie Dinsdag kom staan
En oppie hartsnare ’n C-mineur-sewe slaan
Die akkoord vaspen, middelslag en somber.
Die maag laat saamtrek in kommer
Die boodskap was daar, grou en goor
Ons het jou amper verloor
En voor ek kon verstaan
Was my hart ys en tyd het stil gestaan
Die kil besef het met weerklank geslaan
Ek’s nie reg om jou te laat gaan
te laat gaan
te laat gaan
Want ingekruip is jy, in my hartkas
Jou poshok; met meer die notas
Ons herontmoeting so skaars
so skaars
so skaars
En nou druppel die reën haar trane
Teen die ruit in waternat bane
Vervuld in metafisiese empatie
Ag, mens
Wanneer die geel van die perdeblom verwelk
en haar silwer haardos in die wind verwaai
Wanneer gemoed in die najaar draai
Die boer die laaste vrugte maai
Kyk dan in die hemel na die windswael
Wat verhuis sonder kwaal
Van hier tot ver oor die ewenaar
Jou gedagtes na my dra op die wind se snaar
Ag, jy
Nostalgie het geen kuur
En kom daardie laaste tydglas uur
Waar ons sal beide moet reis in eie tyd,
Alleen van hier na daar
Mag ons net hoop dat in die poshok
Het die laaste brief tussen ons ook ontdok.
No comments:
Post a Comment