2015/04/18

Die 16e Saterdag.

Dis die sestiende Saterdag van hierdie jaar. Nie dat Ysbeer boekhou met sulke statistiek nie, maar dit is ongeag. Vandag is 'n mooi dag. Die son skyn, ’n paar wolkies, maar die lug is blou. Buite is die windjie not ietwat skraal, maar hier in die kombuis is dit net lekker lekker.

Vanoggend word daar gedans in die kombuis terwyl daar skoongemaak word. Van daai soorte dansies wat net gedoen word terwyl jy dink niemand kyk nie. Dis Shakatak wat speel, of soos ’n ene mediese student vriend dit destyds op universiteit herdoop het -  Pondokkie Aanval. Fusion Jazz was nog nie altyd Ysbeer se koppie tee nie, maar Shakatak is spesiaal - tydloos, soos ’n vriendin van Ysbeer in ’n verre land sal sou sê.

Verre lande. Ysbeer dink nou willekeurig en onwillekeurig aan baie vriende in verre lande. Wat doen Jakkals nou? Slaap seker amper al - die son in Taipei is mos lank uitgebrand voor die son hier in die land van die Anglo-Sakse. En al daardie vriendinne in die Kaap? Seker te vroeg vir ’n glasie rooiwyn, of hoe praat ek nou?  Gaan iemand dalk hierdie naweek op ’n wildsafari of whiskey proe in Skotland? Onthou om vir Ysbeer 'n mooi foto te stuur. Van Durban na Mtubatuba, tot Nelspruit en Pitoorhia - hulle is almal daar. Van Chicago na Edinburgh tot in Australië, nog meer in die diaspora. Ysbeer waai maar vir julle almal, al kan julle dit nie sien nie.

Ontbyt is eenvoudig vanoggend, heel kontinentaal. Nou kyk, dis een van Ysbeer se gunstelinge. Net krossante, kaas en salami. Maar dis die kaas vanoggend, nie sommer ’n hierjy kaas nie, dis Ossau-Iraty, skaapmelkkaas uit Franse Basque. Een van Ysbeer se kinners het dit hier aangebring. Volgens die pakkie het dit ’n vrugtoniese geur. Ysbeer is nie so seker nie - dit slaat hom eerder met ’n plat hand oppie neus. Overgesetsynde, integreer dit saam met die Milaanse salami en ’n bietjie Leerdammer uit die lae lande, dan’s die wêreld weereens sharp-sharp.

Die son skyn lekker ja. Ysbeer kyk uit die kombuisvenster, oor na die plot grond. Die eerste frambose sal seker binnekort begin vorm;  pers Glen Coe frambose. Hulle is vroeg soos altyd, vir die meeste ander, sal daar nog 'n paar maande gewag moet word. Glen Coe se takke rank lank uit en wil alles oorneem - amper soos ’n ene Zuma waarvan die mense in die suide Ysbeer vertel het. Dis tyd om die uitlopers terug te knip - die frambose dit is, Ysbeer kan nie op Zuma kommentaar lewer nie. Soos Shakatak sou sê - Easier Said Than Done.

Maar nou ja, Ysbeer kan nie te lank rondhang nie, werk moet gedoen word, want daar is vanmiddag groot rugby. Wragtig, Ysbeer sou nou eerder in St Etienne wou gewees het vandag, maar sy track record by uitklopwedstryde is nie so goed nie - drie uit drie verloor! Ysbeer bly nou maar tuis en kyk op die televisie, dan het die manne van rooi en swart ’n beter kans om te wen. Hoor nou maters, cometh the minute, cometh the hour, dan is dit Forget Calm and Support Saracens. Ysbeer seg maar net.

Reg dan, Ysbeer gaan nou eers ’n Sportif maak soos wat dit by die Belge geleer het - gelyke dele pomelosap en Indian Tonic, yskoud en reg vir die sonskyndag. En dan nog so ’n bietjie dans na Shakatak, terwyl niemand kyk nie.

Groetnis.

No comments: