2015/12/22

Ysbeer ontmoet vir Senna

Hierdie is 'n kopie van 'n artikel wat vir die Peglerae - die nuusbrief van die Magaliesberg afdeling van Bergklub van Suid-Afrika - geskryf is en in die Maart 2015 uitgawe gepubliseer is.

Ysbeer Ontmoet vir Senna
Die uwe Ysbeer is terug in die Magaliesberg. Eish! Dis hittig daarso. Ysbeer het maar gesweet. Daar waar hy vandaan kom is nie so warm nie. Ysbeer kan wel berig dat Grootkloof nog so mooi soos altyd is, oeroue sandsteenkranse en al.

Ysbeer het ook Senna ontmoet. Ayrton Senna? Hy mos dood. Het Ysbeer dan nou geeste opgeroep? Nee, nee, Ysbeer het geleer van Senna die Onkruid, oftewel Senna Obtusifolia. Julle sien, die dinge wil mos ons klowe vervuil. Ons moet terugveg! Ons moet hierdie bliksems uitwis, maar ons moet hulle ontkant vang, net daar wanneer hulle dit nie verwag nie. Februariemaand! Wanneer hulle nog droom van blommetjies en peule, gryp hulle en ruk hulle uit – hulle sal nie hulle blou lug van hulle bruin grond daarna onderskei nie. Ysbeer sê maar net.

Nou kyk, hierdie klub het mense wat die natuur so goed ken. Ysbeer het geleer van klein kewertjies wat in rakswamme bly. En dié kewertjies het sommer parasitiese wespes saam met hulle – een hele millimeter groot! Kruip nou op jou knieë rond om Senna te verdwelg of uitheemse bome af te saag en dis die goed wat jy by Ottilie leer. Priceless. (Jy kan ook dit nie met Mastercard koop nie).

So van wespes gepraat, Ysbeer het simpatie met die samekomeling wat deur 'n perdeby op die lip gesteek is. Eina! Ysbeer dink hy moet Jan van Riebeeck daarvoor blameer - dit blyk die populêre tema van die maand te wees.

Terug van daardie meander na hierdie kwessie van interessante Magaliesberg feite. Wie van julle weet van al daai moerse magma wat hierdie berg op sy sy gedraai het? Ek is jammer, maar geen Nkandla firepool sou dit ooit kon stop nie. Ja-nee, Ysbeer het sommer so ad-hoc geologieles by Christa ook gekry. Ek sê, ek sê, mens leer baie meer interessante dinge hier as 'n tiener wat 'n sneak preview op 'n pornkanaal probeer trek.

Maar hier is nou 'n ding wat Ysbeer ook geleer het. Dié onkruiduitroeiery is 'n wonderlike ding. Ja, selfs meer wonderlik as die donkie. Die Bergklub kan seker mense betaal om dit namens ons te doen, maar arbeid kos geld. Ons is baie beter af om daardie geld te spaar vir ander bewaringsprojekte – soos om nog grond te kan koop. As ons dit self doen, dan kry ons kans om dele van ons grond te verken, waar ons dalk nooit andersins op sal uitkom nie. Dis so verve-e-e-e-lig om altyd op paadjies te loop! 'n Bergklublib kan soveel nader aan die Moeder Natuur ook kom – reg hierso op ons eie grond. Dis in elk geval nie sulke harde werk as wat mense hulle sal verbeel nie. 'n Stuk werk in die oggend, en die middag in 'n yskoue bergpoel - what's not to like, bro? Moet nou ook nie die lekker kos tussen in vergeet nie. As jy nie lekker geëet het nie, moenie Ysbeer blameer nie – pak beter in volgende keer.
Maar so 'n dag moet ook aan 'n einde kom. 'n Mens moet ook maar vir die koelte en sereniteit van Ysterhoutkloof totsiens sê.

Groete hier van die N4 af. Ysbeer wil ook net sê: Woza next weeding weekend! (Nee, jy kan nie gerook raak nie, it's not that kind of trip).
(En so as 'n finale woord wil Ysbeer ook maar net noem dat hy sommer so lekker gevoel op sy maag het – hy voel hy het 'n bewaringsverskil gemaak).

No comments: